Veterane neem bestek op
Gewete en versoening uitgebeeld
DIE geselskans het hom voorgedoen met die opening (waargeneem deur Judith Mason) van Titia Ballot se oorsigtentoonstelling in die Sasol-kunsmuseum op Stellenbosch. Om ’n tafel het ons van die verloop van elkeen se loopbaan bestek opgeneem en oor veral hul bydrae vorentoe gesels. Die ouderdomsverskil is net drie jaar, en gesamentlik het hulle ’n eeu van kunsbeoefening as vertrekpunt.
Die invalshoek is Ballot se uitstalling, wat Mason beskryf as “ ’n reis vry van die angs en vooroordele”, wat merkwaardig anders is as wat die meeste ander kunstenaars oor dieselfde periode ervaar het. “In ons woede en ontnugtering rondom die politiek was ons genoodsaak om met ons kuns teen verontmensliking en magsmisbruik standpunt in te neem,” sê Mason. In hierdie tyd het Ballot haar kuns juis gebruik om op raakpunte te wys ten einde ’n nuwe verstandhouding van ’n kollektiewe geskiedenis en ’n gesamentlike toekoms voor te hou.
Mason meen in Ballot se werk is daar ’n “transendente spirituele dimensie” wat haar herinner aan Wagner se verlange na “goddelike misnoeë”. Ballot “verlang na ’n resolusie, terwyl die meeste kunstenaars, soos ek, dit moeilik vind om die onreg van die geskiedenis opsy te stoot”.
Ballot hou, volgens Mason, ’n spieëlbeeld omhoog van hoe die geskiedenis, vir haar, verloop het. Sy is nie veroordelend nie, maar gedissiplineerd in haar denke. “Ék kan nie dieselfde oor die geskiedenis voel nie, by my is daar nog woede. Daar is nog ’n verlede wat deur ’n waarheid-en-versoeningsritueel moet gaan om in hoop – as dit kan bestaan – oor te gaan.”
Ook verwys Mason na die “Boeddhistiese benadering” in Ballot se werk, wat rustig na buite kyk, terwyl haar eie werk konfronterend is en verandering as oplossing voorhou.
Die gestalte wat herinnerings in ’n kunswerk aanneem, is vir hulle albei belangrik. Dit word ’n vertrekpunt vir dialoog wat kuns, hoe geslote die kodes soms ook al kan wees, ’n poging tot uitreiking en breër kommunikasie maak.
Albei kunstenaars het sittings van die Waarheid-en-versoeningskommissie bygewoon om te luister na die stories van Suid-Afrikaners wat hulle as roerend, menslik en ontnugterend beleef het. Op die verhale en ervaring van persoonlike ontboeseming het hulle verskillend gereageer.
Vir Mason was daar ’n byna kinderlike betrokkenheid by die aanhoor van die verhale – ’n gevoel van verligting dat “die woede en die vrees van die sewentiger- en tagtigerjare na die oppervlak kon kom”. Vir Ballot was die inlewing in die persoonlike en historiese pyn “ontgogelend”, en tog kon sy aanvoel dat heling sou lê in die versoening van teenoorgesteldes wat ’n nuwe kollektiewe bestaansruimte sou skep.
Só byvoorbeeld laat Ballot die Voortrekker-monument – ’n simbool van Afrikaner-nasionalisme – skeur toe die oomblik van waarheid vir haar aanbreek. Hier, besef sy, moet “skanse afgebreek” word.
Vir Ballot is die terugblik wat haar oorsigtentoonstelling op haar loopbaan aanbied, ’n ervaring van bemoediging. Dis terselfdertyd ’n afsluiting en ’n nuwe begin. Vir die gevierde Mason is kuns “narkoties”. “Ek funksioneer nie as ek nie werk nie.”
Sy vertel dat daar ’n algemene gevoel van struggle fatigue is. Sy kyk opnuut na die Suid-Afrikaanse geskiedenis en lees wyd. Sy vind aanklank by veral Johan Degenaar se filosofiese essays van die sewentigerjare en sy analise dat die tragedie van die apartheidsverlede ’n spesifieke ruimte is – in Degenaar se woorde –“my heart is where the hurt is”.
Oor vandag se jonger geslag kunstenaars kan dié twee lank en onderhoudend gesels. Dat daar baie potensiaal is, word ruiterlik erken, en kunstenaars soos Wim Botha, Claudette Schreuders en Conrad Botes maak veral Mason opgewonde. Wat hulle ongelukkig stem, is die skynbare beheptheid van jong kunstenaars met skoktaktiek wat nie noodwendig in hul werk verantwoord word nie.
In hierdie gesprek tussen twee geesgenote stem hulle saam dat dit vir hulle nodig is om die veranderings rondom en in hulle te aanvaar en dat dit steeds vir hulle noodsaaklik is om met nuwe werk voort te gaan. Vir hulle is dit nou ’n proses van blootlegging en om insigte te verweef tot nuwe begrip. Dit word vir hulle elkeen ’n uitdaging om nou – in die herfstyd van hul loopbane – op ’n helende en profetiese roeping te antwoord.. Ballot se oorsigtentoonstelling, Die Hartklop van ’n Etser, kan nog tot 23 Februarie in die Sasol-kunsmuseum in Ryneveldstraat, Stellenbosch, besigtig word.
Titia Ballot se kleurets Die inisiante (1987) Foto: FRANÇOIS KRÜGER
Judith Mason en Titia Ballot