wat plaasgevind het in die Galery, Noord Wes Universiteit, Potchefstroom, 7-30 Nov 2007 en in die Sasol Kunsmuseum, Universiteit Stellenbosch, 16 Jan-23 Feb 2008

TITIA BALLOT DIE DRUKGRAFIESE VIRTUOOS

Die prosesse van drukgrafika het ontstaan uit ’n behoefte om inligting en afbeeldings te vermenigvuldig. Die eerste houtsneedrukke dateer reeds uit die 15e eeu. Daarna het kopergravure, ets, litografie, serigrafie en uiteindelik die verskillende kontemporêre drukgrafiese tegnieke ontstaan. Al hierdie prosesse was kumulatief en die hedendaagse drukgrafikus is in die geleentheid om uit ’n groot verskeidenheid daarvan te kan put. Titia Ballot is een van dié kunstenaars wat haar tot die hoogste vlak in hierdie tegnieke geskoei het en dit as draers gebruik vir haar eiesoortige inhoud.

In bykans elke kritiek wat oor die dekades oor Titia Ballot se werk gelewer is, kon die kritikus of resensent nie nalaat om na die voortrekflikheid van haar deeglike vakmanskap te verwys nie.

Soos hierbo in die rubriek Beginjare genoem is, het Titia Ballot aanvanklik op skilder (olie en waterverf) gekonsentreer, maar van die laat jare 70 af span sy al meer die grafiese medium in, veral uit hoofde van haar doseeropdrag aan die PU vir CHO, waar sy na hul terugkeer uit Duitsland weer inval en in 1987 as departementshoof benoem word. Mettertyd bemeester sy ’n verskeidenheid grafiese drukprosesse waaronder litografie (sy volg ’n gespesialiseerde jaarkursus in Duitsland, collagrafie, serigrafie en diepdruk. Dit is egter laasgenoemde wat haar blywend inspireer om tegnies steeds vernuwend te werk te gaan. So ontgin sy, byvoorbeeld, in haar jongste werk suurvrye etstegnieke, graveertegnieke op perpeksplate en die benutting van chine collé (dun Japanese papier) in kombinasie met die diepdrukproses. Meer onlangs maak sy ook gebruik van ’n koolstof-kopieertegniek (Xerox)

As gevolg van haar duidelike meesterskap in hierdie fisiese betrokkenheid by die kunsmaak-proses, is sy oor die dekades heen in die media beskryf as ‘n virtuose grafiese kunstenaar, met ‘n sonderlinge vertroudheid met etstegnieke en vaardigheid in teken (Riena van Graan,1980) en:

“elegance, simplicity, good craftwomanship [who]… knows her etch and her press, and turns out a neat job with her excellent graphics” (Georges Duby, 1980).

‘n Dekade later word dieselfde lof haar steeds in hierdie verband toegeswaai: “Ballot se werk is hoogs professioneel – byna serebraal. Elke tegniese moontlikheid en probleem van die medium waarin sy werk, is ondersoek en onder beheer gebring. Titia Ballot se werk is egter nie beperk tot blote tegniese afgetrokkenheid nie. Sy benut haar vaardighede om uitdruking te gee aan haar self-bewuswording, filosofie en angs wat voortgebring is uit haar plek in die samelewing en geskiedenis. Haar uitbeelding is geweldig persoonlik en geslote. Riglyne is nodig om die outobiografiese verwysings te verstaan” (Frieda Harmsen, Junie 1990, tydens ‘n uitstalling van Titia Ballot, Sheila Nowers en Margaret Roestorf, Gencor-galery, RAU, Johannesburg).

Haar jongste werke is nog nie aan die kritiese oog van die publiek of kunsresensent uitgelewer nie, maar kenners sal dit sonder twyfel weer die lof gee wat dit verdien.

SLOTOPMERKING

Suid-Afrika het in die “struggle jare” sy kwota aan versetkunstenaars gehad wat in lyn en kleur geprotesteer het teen die politieke onreg, of die geweld wat gepleeg is. Maar totdat ek verkeerd bewys word, wil ek die stelling maak dat Titia Ballot die enigste Suid-Afrikaanse drukgrafiese kunstenaar is wat helder in die kollig uitstaan met haar Christelik-gefundeerde boodskap van versoening en heling. Sy het nie geskroom om onreg uit te wys (Goeie Vrydag op Graaff-Reinet) of teen komende onheil te waarsku nie (Visioen by Uitkyk, Wind in die Wingerd ), maar het ook gepleit vir die verstaan van die ander se “andersheid” (Die Inisitante) of van haar eie prysgegee om te assimileer met die ander.(Soektog)

Daarom is ek geneig om met Judith Mason saam te stem: “There is a quality of serenity, a quality of love about these pictures and a quality of reaching out to heal and patch up and balm, which is very, very rare and very, very effective indeed”.

Titia Ballot se hart klop reg: krities-trots op haar historiese Europese wortels, maar ook vol deernis vir hierdie land, Suid-Afrika, waar die pad na versoening en heling nog nie klaar geloop is nie.

Saamgestel deur:

Lydia M de Waal
Stellenbosch, Winter 2007

“If prints are a form of social practice, then in times of change they are charged not only with ink, but with resonances that are invariably political,
whether as blatand party propaganda, or in a more metaphisical sense.Like many other cultural forms, they constitute a site of resistance”
(Hobbs P.& Rankin E., 1997:3 Printmaking in a transforming South Africa. Cape Town: David Philip)

BYLAE 1

Prof Johan Snyman van die Universiteit van Stellenbosch se lesings en publikasies oor die politiek van herinnering as strategieë om historiese trauma te verwerk en die rol wat oorlogsmonumente en –gedenktekens in hierdie proses sou speel, het vir Titia Ballot van die begin af beïndruk. Dit het aanklank gevind by haar eie gedagtes oor die verwerking van die onlangse Suid-Afrikaanse geskiedenis wat ‘n bron van inspirasie is vir haar kunswerke.

“Redes vir hierdie aanklank sou kon wees dat hy as kunsfilosoof sy idees dus as’t ware ‘sigbaar’ maak deur middel van verwysings na voorbeelde van kuns en argitektuur. Die naspeur en daarstelling van visuele metafore en simbole vir idees oor konfrontasie en versoening is eintlik ook waarmee ek my besig hou.

“Na aanleiding van wat prof Snyman poneer oor gedenktekens en monumente, het ek onlangs weer gaan kyk na ‘n metafoor wat sedert die tagtigerjare reeds in my werk voorkom, naamlik die Voortrekker Monument. Gemeet aan die kriteria van Arthur C Danto soos by geleentheid deur prof Snyman aangehaal, is die Voortrekker Monument m.i. ‘n interessante mengsel van monument en gedenkteken:

“We erect monuments so that we shall always remember, and build memorials so that we shall never forget….. Monuments commemorate the memorable and embody the myth of beginnings. Memorials ritualize remembrance and mark the reality of ends. The Washington Monument, vertical, is a celebration, like fireworks. The Lincoln Memorial, even if on a rise, presses down and is a meditation in stone. Very few nations erect monuments to their defeats, but many set up memorials to the defeated dead. Monuments make heroes and triumphs, victories and conquests, perpetually present and part of life. The memorail is a special precinct, extruded from life, a segregated enclave where we honor the dead. With monuments we honor ourselves.”
Arthur D Danto, THE STATE OF THE ART, New York; Prentice Hall, 1987, p112.

Ek het as’t ware saam met die Voortrekker Monument grootgeword: ek was 8 jaar oud met die inwyding in 1949; my ouers het mekaar ontmoet tydens een van die feesbyeenkomste ter herdenking van die Groot Trek in 1938; tydens my doopplegtigheid in 1941 was selfs die doopbak ‘n aandenking aan die Groot Trek en die Monument, nl ‘n silwer suikerpot. Op skool het ek die opsweping van ‘n nasionale gevoel onder Afrikaners meegemaak; so ook die onmin teenoor die Engelse. Gelukkig is hierdie gevoelens getemper deur die nugter perspektief van my vader wat die ware kleure van die Nasionaal Sosialisme ontdek het terwyl hy Opvoedkunde in die vooroorlogse Duitsland studeer het. Die verpolitisering (tydens die Monument se inwyding-seremonie sowel as daarna) van die Voortrekkers se bewonderingswaardige bydrae tot ons land se geskiedenis, het vir my die Monument vir altyd ‘n “klinkende simbaal”, dws sonder “die liefde”, gemaak. Tydens ‘n besoek aan die Monument in Januarie 2001 lees ek weer die woorde op die senotaaf: ONS VIR JOU SUID-AFRIKA en word diep getref deur die sterwende Zulu- en Boerekryger wat sy aan sy uitgebeeld is op die Dirkie Uys-fries. My hunkering groei na ‘n PLEK waar Afrikaners weer regop kan staan terwyl hulle onthou – sonder skulgevoelens of verwyte.

In my werke word die klipmonumente van die verlede meesal opgeskeur, oopgebreek en/of gefragmenteerd aangebied, saam met simbole van heling en reiniging (bv. Vuur en water). Dikwels is daar ook trappe en paaie wat na nerens lei nie of in doolhowe ontaard. Miskien is ek besig met die kartografie van ons swerftog in die woestyn voordat ons die beloofde land mag binnegaan?”
Titia Ballot. Inligtingstuk by uitstalling Dialoog / Dialogue, US Kunsgalery, Stellenbosch, 21 Feb – 13 Mrt 2001.

BRONNELYS

Abrie, Hettie. 1987. Beeld, Kalender, 24 Augustus.
Ballot, GM. 2007. Enkele kantaantekeninge oor Titia Ballot se vroëe jare as kunstenaar.
Basson, Gawie. 1990. Nuwe kunsskat in Hester Rupert Kunsmuseum,
The Graaff-Reinet Advertiser, 15 November.
Britz, Sonja. 1981. The Natal Mercury, 2 July.
Burger, Lucia. 1990. Uiteenlopende benaderings .Ballot, Nowers & Roestorf, Gencor,
RAU.
Kalender, Bylae tot Beeld, 22 Augustus, p2.
Buys, PW. 1979. Bybelse motiewe in die beeldende kuns, in Die Kerkblad, 24 Oktober.
Buys, PW. 1980. Vernuwing en Verdieping, SA Kunskalender, Mei/Junie, p 14.
Buys, PW. 1980. SA Kunskalender, Junie/Julie, p14.
De Beer, Debbie. 1990. Interessante werk op selfbewuste dorpie. Die Burger, 4 Oktober, p8..
De Waal, LM. 1988. “Vanitas” – stillewes in die skilderkuns. Bulletin, Pretoria
Kunsmuseum,
Jaargang 22 no 2 April.
Duby, Georges. 1980. Time and space theme. Pretoria News, 22 September 1980.
Fleerackers-Ruys,
Annie. 1994. Confrontatie en verzoening van culturen. Solotentoonstelling
georganiseer deur Vlaams-Zuidafrikaanse Cultuurstichting. Leuven &
Antwerpen, November –Desember.
Green, Eldred. 1980. Graphics in Bellville. The Argus, 20 Junie.
Harmsen, Frieda. 1990. Titia Ballot, Sheila Nowers, Margaret Roesorf .Openingstoespraak,
Chelsea-galery, Wynberg, Junie.
Hobbs, P & Rankin, E. 1997 PRINTMAKING In a transforming South Africa. Cape Town: David Philip.
Hugo, Daniel.1988. Titia Ballot in DOLOS. Literêre studenteblad: Departement Afrikaans
en Nederlands, UOVS, April .
Huntley, Merle. 1987. Ballot leaves little to the imagination, Pretoria News, 3 September.
Katalogus. 1998. 12 Oktober – 8 November, Uitstalling aangebied
deur die Universiteitsmuseum: Universiteit van Stellenbosch.
Kuijers, Arie. 1979. SA Kunskalender, vol 4, no, Oktober.
Munitz, Benita. 1989. Discoveries of the happy kind, Cape Times, 18 Maart.
Munitz, Benita. 1995. Ballot’s landscapes ‘convincing”. Top of the Times, Cape Times,
28 April.
Nolte, MA. 1993. Skerp tekentaal van die etskuns, Die Burger, 6 November.
Nolte, MA. 1995. Sterk etskuns gryp aandag en verstand. Die Burger, 27 April.
Nolte, MA. 1995. ’n Boeiende wisselspel van onlangse grafiese drukkuns, Die Burger,
21 Junie.
Onbekend. 1981. Kunstenaars na Republiekfees. Wapad, 3 April.
Onbekend. 1986. Arts Calendar, Vol III no 2.
Onbekend. 1990. Nuwe kunsskat in Hester Rupert Kunsmuseum. Graaff-Reinet
Advertiser, 15 November
Onbekend. 1990. Titia Ballot se werk word uitgestal, Distrikpos, 28 September.
Smuts, Lynn. 1994. Openingsrede: US Kunsgalery, 9 November.
UBUNTU. Kunst aus Sud Afrika. 1995. Ausstellung im Museum fur Volkerkunde,
Neue Hofburg, Wien/Osterreich, 5 April – 21 Mai.
Universiteit van Katalogus: Hedendaagse Suid-Afrikaanse Drukgafika, Zuid-
Stellenbosch. 1998/99 Afrikaanse Week in Vlaanderen, Universiteitsmuseum.
Van Bosch, Kobus. 1994. “n Soeke na wortels in gebalanseerde grafika. Die Burger, 22 November.
Van den Berg, Zirk. 1988. Kulture versoen in gehaltewerk. Die Burger, 27 Desember.
Van Graan, Riena. 1980. Sterk eenvoud. Beeld, 26 September.
Van Heerden, Neil. 1988. Openinggeleentheid van solo-uitstalling op Franschhoek
as deel van die 300jarige herdenking van die koms van die
Franse Hugenote, Desember.
Wells, Martin. 1989. Work covers great deal, Supplement to The Argus, 29 March.